’n Span van vier leerlinge uit die Vrystaat en Noord-Kaap het van 15 tot 19 Julie aan die Primary Maths World Competition (PMWC) in Hongkong deelgeneem en met twee trofeë huis toe gekom.
Dr. Elsie Schoombie wat hulle as spanleier vergesel het, sê wat veral besonders is is die verowering van ’n derde plek in die afdeling van nie-Asiese spanne, die Po Leung Kuk-trofee.
Die PMWC is ’n internasionale wiskunde-kompetisie vir laerskoolleerlinge wat jaarliks in Hongkong plaasvind.
Daar was 32 spanne uit 15 lande wat vanjaar deelgeneem het. Dit was die eerste keer weer sedert 2019 dat die kompetisie in-persoon plaas gevind het. In 2020 was daar geen kompetisie nie weens die Covid-pandemie en in 2021 tot 2023 is die kompetisie aanlyn aangebied.
Deelname aan die PMWC vind slegs op uitnodiging plaas en slegs twee spanne is toegelaat om Suid-Afrika te verteenwoordig: ’n span uit die Vrystaat en Noord-Kaap wat as die Bloemfontein-span bekend gestaan het, en ’n span uit KwaZulu-Natal bekend as die Durban-span.
Die vier leerlinge van die Bloemfontein-span was Ayanda Mabe (Curro, gr. 7), Carli van der Westhuizen (Laer Meisieskool Oranje, gr. 7), Orion Chen (Grey-kollege (primêr, gr. 6) en Wendy Chang (Laerskool Ladybrand gr. 6). Hermina Oosthuizen het as onderspanleier na Hongkong gegaan.
Schoombie verduidelik deelname aan die kompetisie vind plaas in twee afdelings: ’n individuele afdeling en ’n spankompetisie.
In die Individuele afdeling kry leerlinge 15 gevorderde probleme om elkeen op sy eie in 90 minute op te los.
In die spankompetisie werk die vier spanlede saam om tien moeiliker probleme onder mekaar te verdeel en binne een uur op te los. Die punte van die individuele en spankompetisie word dan saam getel om ’n spanpunt te gee.
Die standaard van die wiskundeprobleme is op ’n internasionale vlak, wat beteken dat die laerskoolleerlinge wiskundeprobleme moet kan doen wat vir Suid-Afrikaanse leerlinge eers in gr. 9 en gr. 10 aangebied word. Daar word ook vrae oor wiskunde-afdelings gevra wat nie in die Suid-Afrikaanse sillabus is nie, soos gedeeltes van kombinatorika.
Schoombie sê dit is merkwaardig dat die Bloemfontein-span ’n derde plek kon verwerf.
“Dit kom egter ná ure van ekstra wiskunde-opleiding gedurende weeksaande en twee weke van voldagklasse in die vakansie. Dit was ook belangrik dat die vier spanlede mekaar se sterk en swak punte moes leer ken, om die vrae op die beste manier onder mekaar te kan verdeel.”
Die Bloemfontein-span is opgelei deur Marthinus Schoombie.
”Ons sien uit daarna dat laerskoolleerlinge van die Vrystaat en Noord-Kaap weer volgende jaar na die PMWC genooi sal word.”
Sy nooi laerskoolleerlinge wat in 2025 vir hierdie PMWC-span sou wou kwalifiseer, om nou al op te let na geleenthede soos die Nautilus-kompetisie en klasse deur die Tricky Maths-program.
Rig navrae per WhatsApp aan Nelmari du Toit by 083-576-0416 of Schoombie by 082-926-6674.




