Die drie Vrystaters wat in Engeland deelgeneem het, is van links Quintin Henning, Christine van Zyl en Anje Blom.foto: Verskaf


Drie skuts van Bloemfontein het onlangs aan die Britse Junior Internasionale skietkompetisie in Bisley, Engeland, deelgeneem en medaljes gewen.

Quintin Henning (gr. 11) van Grey-kollege (sekondêr), Christine van Zyl (gr. 11) van die Hoërskool Sentraal en Anje Blom (gr. 9) van die Hoërskool Fichardtpark was deel van die skietspan van die Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskuttersunie (Sanssu).

Dié drie leerlinge het ’n goeie bydrae tot die span van 21 gemaak. Deelname was van 5 tot 8 Augustus.

Anje, op 14 jaar die jongste skut van die span, het vyf goue medaljes in die o.21-afdeling gewen, waarin sy meegeding het.

Sy het ook ’n bronsmedalje verower en het die drie dae se eindrondes gewen.

Quintin het ’n goue, asook twee silwer- en ’n bronsmedalje, verower.

Christine het een silwer- en een bronsmedalje gewen.

Dié Bloemfonteiners het altesaam 12 van die span se 57 medaljes verower wat hulle in die kampioenskap opgeraap het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article