Groot opgewondenheid heers oor vanjaar se #Weesdieverskil-fees wat die ATKV-tak Gemeenskapsteater by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein gaan aanbied.
Die fees, wat op Saterdag 2 November plaasvind, bied aan feesgangers vermaak, stalletjies sodat gaste tussendeur kan drentel en koop, ’n danskraal, ’n skattejag en twee vertonings deur die ATKV in die amfiteater.
Ebeth Wilson, die organiseerder van die #Weesdieverskil-fees, sê dat vanjaar se geleentheid iets besonders gaan wees.
“Dit is vanjaar die derde keer dat die fees aangebied word. Vanjaar word die fees ten bate van die Vereniging vir Blindes Vrystaat gehou.”
Oud en jonk sal kan deelneem aan ’n skattejag, met ’n prys wat op die spel is.
Verskeie skole se dans- en ritmegroepe gaan deur die loop van die oggend in die danskraal optree.
’n Kinderproduksie, Georgie se radio, asook Ilne Fourie se toneelstuk Verkleurvroutjie, ’n nuwe produksie wat op die Aardklop-kunstefees debuteer.
Besoekers sal op die dag ook ’n gratis begeleide toer deur die Oorlogsmuseum kan onderneem.
Die hekke open om 09:00. Kaartjies kos R20 en kinders jonger as 12 jaar kry gratis toegang. Die kaartjies sal by die hek beskikbaar wees.





