‘n Man (42) het skuldig gepleit en is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis op aanklagte van die seksuele aanranding van ‘n 13-jarige leerder aan ‘n Bloemfonteinse laerskool.
Die vonnis is in die geheel opgeskort.
Sert. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die leerder het die saak by ‘n maatskaplike werker by die skool aangemeld. Sy het vertel van ‘n reeks voorvalle waarin die man, haar stiefpa, onvanpas geklee langs haar gelê het en onwelvoeglike dade uitgevoer het. Ondersoek het bevind die beskuldigde het haar aan pornografiese materiaal blootgestel en haar aan onfatsoenlike aanraking onderwerp.
Dit is bevind haar biologiese ma het van die mishandeling geweet, maar versuim het om regstappe te neem of die saak aan te meld. Die aanklagte teen die ma is teruggetrek.




