Die 18de Pieter Fourie-veerpyltjietoernooi is van 5 tot 7 Desember in Bloemfontein aangebied.
Dié geleentheid, wat elke jaar in die stad gehou word, bly ‘n hoogtepunt vir elke veerpyltjiespeler in die sentrale deel van Suid-Afrika.
Die stigter van die toernooi, Pieter Fourie, is betrokke by die Bloemfontein-veerpyltjieklub, wat Barrels in Monumentweg vir sy aktiwiteite gebruik. Die toernooi is ook weer daar aangebied.
Hiervoor het 33 spanne van oor die land heen, asook uit Lesotho, hulle vir die toernooi ingeskryf: 23 manspanne, 8 vrouespanne en 2 junior spanne.
Altesaam 49 spanne het hulle vir die dubbelspel ingeskryf.
In die mans-enkelspel het 100 deelnemers aangetree. Die algehele manswenner was Werner Bailey van Bloemfontein. Die vroue-enkelspelwenner was Mamosebetsi Sehlooho van Lesotho. Die junior wenner was Henru Swart.
In die spankompetisie was dit twee spanne van die Oos-Vrystaat wat dit om die eerste plek uitgespook het.
Die vroue van die Mali Dart Club van Lesotho het die vroue-afdeling gewen. In die junior afdeling het die Baby Sharks van Bloemfontein die trofee omhoog gehou.





