‘n Ouma van Bloemfontein was die naweek een van die ballerinas op die verhoog nadat sy vroeër vanjaar wéér ná vyf dekades begin dans het.
Lizzie Castelyn (66) sê sy het as jong meisie tussen die ouderdom van ses en 16 jaar ballet gedoen en daarna nooit weer nie.
“Ná Covid het ek erg depressief geraak,” vertel sy.
” ‘n Familielid stel toe voor dat ek iets doen waarvan ek baie hou. Iets wat vir my vreugde verskaf.”
Sy het teruggedink aan haar jong dae toe sy ballet gedoen het en hoe sy dit geniet het.
“Ek het die nommer van ‘n ballet-instruktrise gekry en my hart uitgeskryf. Ek het vir haar gesê ek het 50 jaar gelede ballet gedoen, maar ek wil weer begin.”

Vroeg vanjaar het sy haar ingeskryf vir die volwasse klasse by Santie van Biljon se Creative Dance Academy.
“Dit was glad nie maklik nie,” vertel Lizzie. “Ek is glad nie meer so soepel soos toe ek 16 jaar oud was nie. Ek was dikwels in trane en moedeloos.”
Steeds het sy vasgebyt en lang ure saam met die agt ander volwasse dansers geoefen.
“Dit is almal vroue van 30 jaar en ouer wat jare laas gedans het. Ons het mekaar bemoedig en aangemoedig.”
Saterdag 29 November was vir Lizzie die hoogtepunt van die jaar se harde werk, met die dansproduksie Dream wat in die Wynand Mouton-teater opgevoer is.
Dream vertel die storie van Amara, wat as kind baie gedroom het, maar namate sy grootgeword het haar drome in die alledaagse verloor het. ‘n Vonkie hiervan is terug wanneer sy eendag ‘n verlore papiervliegtuig in ‘n speelparkie vind.

Net soos Amara weer begin droom het, het Lizzie iets besonders in haarself gevind.
“Die konsert het iets kinderlik in my losgelaat,” vertel sy.
“Die applous van die gehoor was aansteeklik. ‘n Mens wou net heeltyd alles en meer gee.”
Haar man, Cassie, asook haar kinders en kleinkinders, het Saterdag gekyk hoe ouma Lizzie saam met die ander ballerinas dans. “Hulle kon nie hul oë glo nie,” sê Lizzie laggend.
Die vertoning het die kroon gespan en is motivering vir haar om volgende jaar weer in te val en haar ballet-vernuf verder op te skerp.






You must be logged in to post a comment.