Bevorder die Franklin-wildreservaat en Naval Hill eerder as om ‘n belegger toe te laat om dit te koop of te verhuur en in ‘n pretpark te omskep.
Inwoners van Bloemfontein het skerp gereageer nadat die Mangaung-metro ‘n kennisgewing uitgereik het van sy voorneme om 14 bates te verkoop of te verhuur.
Een van hierdie eiendomme is Naval Hill in die middel van die stad, wat die Franklin-wildreservaat huisves. Die reservaat is een van net drie reservate in Afrika wat binne ‘n stad geleë is (die ander is die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad en Kenia Nasionale Park in Nairobi).

Naval Hill is enig in sy soort, ‘n plek van ontspanning en opvoedkunde, en bevat ook geskiedkundige en kultuurbelaaide elemente.
Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum is die openbaredeelnameproses rakende die voorneme om van eiendomme ontslae te raak gebrekkig, ondeursigtig en in stryd met die vereistes vir behoorlike openbare deelname.
Andri Grobbelaar, stigter van die Vriende van Franklin, sê hulle sien net in die media van hierdie voorneme en daar was nog geen gesprekke met hulle nie. Vriende van Franklin het die afgelope paar jaar reuse-werk gedoen om na die diere en plantegroei in die reservaat om te sien.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, sê hulle het al talle pogings aangewend om meer inligting te kry oor die beplande transaksie, maar die metro het nog geen terugvoering gelewer nie.

DA-raadslid Tjaart van der Walt sê hulle is bekommerd oor die advertensie wat vra dat kommentaar gelewer moet word oor die verkoop van munisipale eiendom, sonder die goedkeuring van die metroraad of behoorlike waardasieverslae soos voorgeskryf deur wetgewing.
Sello More, die Mangaung-metro se stadbestuurder, het in ‘n nuusbrief gesê die bates onder bespreking waarin beleggers moontlik belang stel, spruit uit die metro se beleggingseminaar in Februarie vanjaar. Hy sê van die persele wat ter sprake is kan beter aangewend word om die ekonomie te stimuleer.
Grobbelaar het intussen namens dié bewarings-organisasie in die stad ‘n brief van beswaar aan die metro gestuur.

In die brief sê sy die metro se voorneme om ‘n pretpark op Naval Hill te vestig, is teen die metro se eie beleid in die ruimtelike beplannningsraamwerk (IDP) van 2022 tot 2027 waarin gesê word dat Naval Hill en die Franklin-reservaat een van Bloemfontein se oop ruimtes is wat bewaar, onderhou en uitgebrei word om die ekologiese verbintenisse en biodiversiteit te bevorder.
“Daar is talle eiendomme in die stad wat beter aangewend kan word vir ‘n pretpark,” skryf sy.
“Eerder as om afstand te doen van die reservaat, moet die metro die Franklin-wildreservaat en Naval Hill promoveer as ‘n vlagskip-stedelike bewaringsmiddelpunt soos gesien kan word by internasionelle modelle van volhoubare stedelike ontwikkeling.”
Die Vriende van Franklin het ‘n openbare proses begin waarin belanghebbendes gevra word om hul besware teen die ontwikkeling van ‘n pretpak aan die metro te stuur. Meer as 270 individue het reeds ‘n brief van beswaar onderteken wat aan die stadsbestuurder Sello More se kantoor oorhandig is. Kry meer inligting deur ‘n e-pos te stuur na friendsoffranklin.bfn@gmail.com.






You must be logged in to post a comment.