In die laaste voorbereiding van die Bloemfontein-kinderkoor (BCC) vir sy Belgiese Kersfeestoer in Desember, word dié koor se gala-konsert op 3 en 4 Desember in die stad aangebied.
Werner Stander, koorleier, sê op die konsert wat oor twee aande in die Odeion op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word, sal die koor sy indrukwekkende program Sounds of Africa aanbied.

Gehore in Bloemfontein kan uitsien na ‘n opgewekte vertoning met gewyde werke, wêreldwye gunstelinge, klassieke Kersliedjies en musiek van Suid-Afrika, asook bekende werke soos “Adiemus” deur Karl Jenkins; “Heal the World” deur Michael Jackson; “Ode to Joy” deur Beethoven; en “Halleluja” van Handel se “Messiah”.
Ingesluit in die program is ook ‘n huldeblyk aan Queen en ‘n mengsel van die mooiste Afrika-koorjuwele.
Dié is die vaarwel-konsert voordat die BCC na Europa vertrek, waar hy aan 16 konserte oor België heen gaan deelneem.
Die koor sal die heel eerste keer binne die Europese Parlement in Brussel optree, asook in konsertsale en katedrale in Brugge, Leuven en St Truiden − om net ‘n paar te noem. Die BCC gaan ook op talle Kersmarkte optree.
Samewerkings met Lisa Del Bo en Belle Perez, asook ‘n optrede saam met die Harmonie Herderen-orkes onder leiding van Toon Debaye, is sommige van die hoogtepunte van die toer.
Dit sal vanjaar die sewende jaar sedert 1998 wees dat die koor na België toer. Die BCC is genooi deur die Beschermcomité van het Bloemfontein-kinderkoor onder leierskap van Johnny Put.
Hoogtepunte die afgelope twee jaar onder die leierskap van Stander sluit in: twee goue medaljes in die junior koorafdeling van die Kaapstad-eisteddfod (2023); ‘n optrede saam met die nasionale Mzanzi Conductors Convention; optredes in Europa in 2022, waar gehore meegevoer is; en optredes in Disneyland, Parys.
Kaartjies vir die vertoning op Woensdag 3 Desember om 18:00 en die een op 4 Desember, ook om 18:00, kos R150 en is beskikbaar op webtickets.co.za onder “Bloemfontein Childrens Choir Gala Concerts 2025”.






You must be logged in to post a comment.