Saterdag word ‘n Secret Sunrise-dansgeleentheid in die stad gehou om die lente te vier. Foto: Verskaf

Dit is heerlike lente, en Bloemfonteiners kan die begin van die groeiseisoen op Saterdag 6 September vier met ‘n geleentheid van beweging en musiek.

‘n Secret Sunrise-dansessie, aangebied deur Riekie Opperman, begin Saterdag om 08:00 by A Little Guest House.

Opperman sê Secret Sunrise is 11 jaar gelede aan Suid-Afrika bekend gestel, en dit word reeds in 16 lande wêreldwyd aangebied.

‘n Secret Sunrise-geleentheid vind Saterdag by A Little Guesthouse plaas. Video: Verskaf

“Die doel is om vreugde te bring en stres te ontlaai deur middel van musiek, beweging en bewustelikheid,” verduidelik Opperman.

“Elke sessie duur ‘n uur. Dit word meestal met sonsopkoms gehou, maar word ook soms in die namiddag of aand aangebied. Die eerste sessies is bo-op geboue in Johannesburg gehou, en die spesifieke plek is eers die aand voor die sessie bekend gemaak. Dit is waar die ‘secret’ deel vandaan kom.”

Elkeen wat deelneem, kry oorfone vir die duur van die sessie. Die fasiliteerder lei die sessie deur ‘n mikrofoon wat ingestel is op die oorfone, met ‘n spesifieke musieklys wat saamgestel is − meestal gekoppel aan ‘n tema.

Secret Sunrise is familie-vriendelik en elkeen kan teen hul eie pas deelneem.

“Die idee is ook om weer bewus te word en te connect met jouself, mekaar en die natuur.”

Secret Sunrise-sessies word ook op versoek vir groepe en ondernemings aangebied, as deel van leierskursusse, verjaardae, ken-mekaar-geleenthede, hennepartytjies en so meer.

Opperman bied ook ‘n program aan wat hoop en vreugde aan mense bring.

“Dit leer mense emosionele vaardighede en fokus op geestesgesondheid. Ons bereik veral met dié sessies minderbevoorregtes.”

Opperman bied Vrydag so ‘n sessie vir versorgers van Engo se kinder- en jeugsorgsentrums aan.

Kaartjies vir Saterdag se Secret Sunrise-geleentheid kos R50 op quicket.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article