In die Vrystaat, en selfs Suid-Afrika, is die die Dednam-van sinoniem met pluimbal.
Prof. Martin Dednam was jare lank die voorsitter van Vrystaat-pluimbal; saam met sy vrou, Engela, het hy uitstekende pluimbal gespeel.
Hul twee seuns Chris en Roelof het hoogtes bereik, met hul deelname in dubbelspel-pluimbal op die Olimpiese Spele in 2008 seker die mees merkwaardig daarvan.
Nou is dit die beurt van hul seuns om dinge op die baan vuurwarm te maak, en die afgelope maand was dit weer só, met verskeie Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat beslis is.
Chris en Roelof het in die afgelope Suid-Afrikaanse Veternane-kampioenskap, vir spelers ouer as 35 jaar, wat van 4 tot 8 Augustus in Gqeberha beslis is, die mansdubbelspel maklik gewen.

Charltin en Shaun het in die vakansie in Benoni met die Suid-Afrikaanse o.13-kampioenskap van 28 Junie tot 4 Julie gewys hulle volg in hul pa’s se voetspore, en hulle het die dubbelspel ook gemaklik gewen. Charltin het die gemende dubbelspeltitel bygevoeg om sy veelsydigheid te toon.
Dit was egter Chris se oudste seun, Aiden, wat wys hy gaan nog baie diep spore in Suid-Afrikaanse pluimbal laat.
Hy was die kaptein van die Suid-Afrikaanse span wat aan die Afrika-o.15-kampioenskap in Ghana, van 28 Julie tot 4 Augustus, deelgeneem het. Hy was by verre die Suid-Afrikaanse speler wat uitgeblink het en het met die silwermedalje vir die seunsenkelspel en gemengde dubbelspel huistoe gekom. Hy het ook brons vir die seuns dubbelspel en die spankompetisie gewen.
Dit is die beste vertoning van ‘n Suid-Afrikaanse seunspeler op die Afrika-o.15-kampioenskap in ‘n dekade, en verskeie Suid-Afrikaanse spelers wat later tot op internasionale vlak presteer het, kon dit nie vermag nie. Volgens Johan Kleinhans, Suid-Afrikaanse afrigter, is een van die redes daarvoor dat talle spelers van Afrika fisiek baie sterk is op daardie ouderdom; Suid-Afrikaanse spelers is dikwels ‘n bietjie later op daardie vlak.
“Veral Aiden se uitstekende tegniese vaardighede het hom gehelp om dié hekkie te oorkom. Sy volgende doelwit is om volgende jaar die Suid-Afrikaanse o.19A-span te haal vir die Afrika junior kampioenskap, en hoewel dit ‘n paar stappe hoër is as sy ouderdom, sal dit hom beslis help in sy loopbaan vorentoe om op daardie vlak mee te ding.”
Herbert Miles het gewys dit is nie net die Dednams wat die afgelope tyd kon presteer nie. Hy het die mansdubbelspel gewen in die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir grootmeesters van 55 en ouer wat in Kaapstad gehou is, saam met Anton Kriel van Gauteng, wat in 1992 die eerste Suid-Arikaanse speler geword het om aan die Olimpiese Spele deel te neem.






You must be logged in to post a comment.