Nico Taljaard

Bloemfonteiner Nico Taljaard bring in sy nuutste eenmanvertoning ‘n aangrypende storie oor die menslike toestand na die verhoog.

Doodnormaal is van 11 tot 13 September as deel van die Pacofs- artistieke program in Pacofs Studio 2 te sien. Die regie word deur Dion van Niekerk gedoen.

In Doodnormaal is Lukas, ‘n verhoogbestuurder onder druk. Hy skarrel agter die skerms om die verhoog gereed te kry vir ‘n vertoning. Die onsimpatieke regisseur jaag hom aan en kritiseer hom sonder genade.

Nico Taljaard is binnekort te sien in Doodnormaal. FOTO: Verskaf

Namate die spanning bou terwyl hy jaag teen tyd, word Lukas se binnewêreld blootgelê: ‘n wêreld waarin selftwyfel, eensaamheid en die soeke na aanvaarding hom gevange hou.

Wat begin as ‘n doodgewone taak, ontwikkel in ‘n sielkundige reis wat sy identiteit en selfwaarde op die spel plaas.

Dié eenmanvertoning ondersoek met humor, weerloosheid, en intense introspeksie temas soos liefde, verlies, verwerping en eensaamheid.

Lukas se verhaal weerspieël die druk van eksterne goedkeuring in die sosialemedia-behepte samelewing, maar met die belofte van hoop.

Taljaard se skryftalent, wat in sy debuuttoneelstuk, Skin Deep, tydens die 2022 KKNK Teksmark-projek gevestig is, word in Doodnormaal sterk ten toon gestel.

“Ons almal dink ons is doodnormaal, totdat ons uitvind ons is nie eintlik doodnormaal nie − niemand is eintlik doodnormaal nie,” sê Van Niekerk oor sy aanvanklike aantrekking tot die teks, wat ook in die eenvoudig, tog sjarmante gebruik van stel, beligting en klankeffekte die teks se temas tot reg laat kom.

Verder ondersoek die stuk die aard van teater as tuiste vir uitgeworpenes, maar ook as ‘n ruimte waarin selfopoffering en vermaak aan ander aan die orde van die dag is.

Van Niekerk bring ‘n magdom teater-ervaring na Doodnormaal, met verskeie eerbewyse − insluitend die 2025 Fiesta-eerbewys vir Beste Regisseur vir die Afrikaanse vertaling Ons Wag vir Godot, wat in 2024 opslae by die Vrystaat Kunstefees gemaak het.

Sy kreatiewe insette beloof om die produksie te verhef na ‘n vlak waar gehore vermaak, ontroer en selfs geïnspireer sal word.

“Ons vertrou hierdie stuk bied nie net universele toepaslikheid nie, maar is ook spesiaal omdat dit deur plaaslike Bloemfonteinse kunstenaars geskep is wat professioneel in die vermaaklikheidsbedryf gevestig is,” sê Taljaard.

Die vertoning is van 11 tot 13 September daagliks om 18:30.

Kaartjies kos R100 en is beskikbaar op Webtickets.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article