‘n Span van vier leerlinge uit die Vrystaat en Noord-Kaap het van 14 tot 19 Julie aan die Primary Maths World Competition (PMWC) in Hongkong deelgeneem en met ‘n trofee huis toe gekom.
Die span het die trofee verower vir die beste kulturele nommer wat opgevoer is. Dit is die pret kant van die kompetisie, waarin die leerlinge van oor die wêreld heen ander aan hul kultuur blootstel.
Die PMWC is ‘n internasionale wiskundekompetisie vir laerskoolleerlinge en vind jaarliks plaas. Vanjaar het 32 spanne uit 12 lande deelgeneem. Deelname vind slegs op uitnodiging plaas, en slegs twee spanne word toegelaat om Suid-Afrika te verteenwoordig.

Vanjaar het ‘n gekombineerde span uit die Vrystaat en Noord-kaap as die Bloemfontein-span, asook ‘n span uit KwaZulu-Natal as die Durbanse span, na die kompetisie gegaan.
Die Bloemfontein-span is uit vier gr.7-leerlinge saamgestel: Orion Chen, Ikem Nwafor (albei van Grey-kollege), Wendy Chang (Laerskool Ladybrand) en Andrew Garnett (St. Andrew’s School). Die leiers wat die span na Hongkong vergesel het, is dr. Elsie Schoombie, as spanleier, en Hermina Oosthuizen, as onderspanleier.
Deelname vind plaas in ‘n individuele en ‘n span-afdeling.
Individueel kry leerlinge 15 gevorderde probleme om in 90 minute op te los. In die spankompetisie werk die vier lede van die span saam, deur tien moeiliker probleme onder mekaar te verdeel en binne ‘n uur op te los.
Schoombie verduidelik die punte van die twee afdelings word dan saamgetel om ‘n spantotaal te gee.
“Die standaard van hierdie wiskundeprobleme is op ‘n internasionale vlak, wat beteken dat die laerskoolleerlinge wiskundeprobleme moet kan doen wat vir leerlinge in Suid-Afrikaanse skole eers in gr. 9 en gr. 10 geleer word,” voeg sy by.
Sy sê daar word ook vrae oor wiskunde-afdelings gevra wat nie in die Suid-Afrikaanse sillabus is nie, soos gedeeltes van kombinatorika.
Laerskoolleerlinge van die Vrystaat en Noord-Kaap sal na verwagting weer volgende jaar na die PMWC genooi word.
Schoombie sê leerlinge wat in 2026 vir insluiting in hierdie PMWC-span sou wou kwalifiseer, moet nou al oplet na geleenthede soos die Nautiluskompetisie en opleidingsklasse deur die Tricky Maths-program om hulle voor te berei.
Rig navrae aan Schoombie by 082 926 6674.





You must be logged in to post a comment.