Eunice High School se skoolkoor is een van die kore wat op 12 Augustus gaan optree.

Hoërskoolkore van oor Bloemfontein heen neem op Dinsdag 12 Augustus deel aan ‘n musiekvertoning wat eer bring aan die prag van koormusiek.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) bied die Hoërskool-koorvertoning aan met vier hoërskoolkore asook die Bloemfonteinse kampuskoor van die UV wat in die Odeion op die UV-kampus gaan optree.

Werner Stander, dirigent van die UV-koor, sê die geleentheid bied ‘n platform om die uitstekende hoërskoolkore in die stad te eer en vir hulle ‘n geleentheid om in die stad op te tree.

Die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfonteinse kampus-koor tree ook in die koorfees op 12 Augustus op.

Die hoërskoolkore wat gaan deelneem, is die St. Andrew-skoolkoor, die St. Michael Kapel-koor, die skoolkoor van die Hoër Meisieskool Oranje en die Eunice Vitae Cantamus-koor.

Laasgenoemde reis juis Donderdag 31 Julie na Pretoria waar die koor in die finaal van die ATKV-Applouskompetisie gaan deelneem.

“Ons is geïnspireer deur die passie en dissipline wat deur dié hoërskoolkore in Bloemfontein getoon word,” sê Stander. “Die fees is nie net ‘n platform sodat hulle kan optree nie, maar ook ‘n lofbetuiging vir die jong stemme wat die toekoms van koormusiek in Suid-Afrika vorm.”

Stander en die UV-koor nooi die gemeenskap van Bloemfontein, musiekonderwysers en ondersteuners van die kunste na die musikale aand.

Die vertoning begin om 18:30 in die Odeion. Kaartjies kos R80 en is beskikbaar by die deur of op Quicket deur hier te kliek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article