Met die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal, word ‘n spesiale musiekfees in die gees van hierdie mylpaal in Bloemfontein beplan.
Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) bied ‘n vokale musiekfees op 25 en 26 Augustus aan waarin spesifiek op Afrikaanse musiek gefokus word.
Met dié musiekfees, wat spesifieke fokus op deelname deur leerlinge van skole oor die stad
heen sal plaas, word die Afrikaanse musiek-erfenis lewend gehou en kry deelnemers boonop die geleentheid om nuwe verwerkings en komposisies te sing.
Joanita Erasmus-Alt, organiseerder van die fees, het bevestig dat soliste, ensembles van twee tot agt lede en kamerkore tot ‘n maksimum van 40 lede hulle vir deelname aan die musiekfees kan inskryf.
Begeleiding mag slegs met klavier of akoestiese instrumente gedoen word, en geen opnames word toegelaat nie.
Inskrywing kos R50 vir soliste, R80 vir ensambles en R120 vir ensambles groter as agt lede en kamerkore.
Erasmus-Alt sê hoewel die doel van die fees eerstens die viering van Afrikaanse musiek is, sal deelnemers ‘n beoordelaarsverslag en sertifikaat ontvang.
Die sluitingsdatum vir inskrywing om aan die fees deel te neem, is Maandag 4 Augustus. Stuur e-pos na joanitaerasmusalt@gmail.com.
‘n Feesprogram sal na afloop van die inskryf-proses opgestel word.
Die musiekfees sal in die Naln-ouditorium aangebied word.





