BLOEMFONTEIN – Dit gaan sommer baie goed met klein Ernst Groenewald (5) wat sy been onlangs in ‘n grusame ongeluk op ‘n plaas naby Bultfontein verloor het.
Ernst se ma, Liza, sê haar jongste is Sondag uit die intensiewesorgeenheid in die Mediclinic Bloemfontein oorgeplaas na die pediatriese saal. “Wat ‘n groot mylpaal.”
“Al die ander lyne, pype en monitering wat die afgelope tyd deel van ons daaglikse werklikheid was, is verwyder.”
Lees wat gebeur het Seun (5) herstel ná hy sy been in fratsongeluk op VS-plaas verloor.

Liza sê Ernst se linkerbeen is nog swak, maar hy het ‘n wonderlike fisioterapeut wat hom met baie geduld help. “Elke tree vorentoe is ‘n oorwinning.”
Die gesin het ook Sondag ‘n spesiale oomblik beleef toe Ernst se ouboet, Johan, sy boetie vir die eerste keer sedert die ongeluk weer gesien het. “Ernst het besluit om vir Johan sy geamputeerde been te wys, nadat ons seker gemaak het dat hy gemaklik is daarmee. Johan was voorberei op Ernst se besering en die trauma waardeur sy boetie is.”
Sy vertel daar was twee kinderlooprame in die kamer. “Johan het dadelik sy boetie begin wys hoe hy moet loop. Vir ‘n oomblik was hulle net weer twee boeties wat saam speel en mekaar aanmoedig. Dit was kosbare oomblikke.”

“Ná alles wat die afgelope tyd gebeur het, voel selfs die kleinste gewone oomblikke buitengewoon spesiaal. Ons tel steeds ons seëninge. Wanneer ‘n mens met ander ouers in die saal gesels en hoor van die kruis wat hul dra, dan tel ons weer ons kruis op. Dit herinner ons om dankbaar te bly vir elke tree vorentoe, elke glimlag, elke rustige oomblik en elke bietjie hoop.”
Maandag het Ernst die eerste keer in die koffiewinkel in die hospitaal gaan kuier. “Hy het groot geglimlag en lekker melkskommel gedrink.”
Liza sê Ernst kry steeds spelterapie en dit gaan goed met sy gemoed. “Maandag was ‘n draaipunt en hy lyk weer amper soos sy ou self.”




You must be logged in to post a comment.